Newsletter / Blog


2017-04-10
Gerammel aan buurtafel verdryf almal se eetlus


Gerammel aan buurtafel verdryf almal se eetlus

2009-12-05 07:41

Dit is ’n verruklike Mediterreense lenteaand. Ons sit in ’n taverne langs die see op die Griekse eiland Andros. ’n Boesoeki kreun saggies. Vier vreemdelinge om ’n tafel naby ons het pas hul kos voor hulle gekry.

’n Gerammel wat aan ’n naderende donderstorm herinner, klink van die buurtafel op. Een van die mans is besig om sy neus te snuit. Dit bereik ’n crescendo van ’n mengsel van donder en bliksemstrale voor dit met ’n laaste moedswillige rammel stil word.
 
Die kelner het intussen ons kos gebring, maar my eetlus is saam met die gerammel vort.

Wanneer ’n groep mense saamreis, kan maniere en ’n bietjie sorgsaamheid baie help om die ervaring vir almal aangenamer te maak. Tafel-, reis- en lewensetiket is eintlik maar ’n mengsel van gesonde verstand, selfrespek en respek vir ander.

Moenie:

Aan tafel snuif of jou neus snuit nie.

Nies of hoes sonder om jou mond te bedek nie.

Aan tafel of naby ander wat eet, rook nie. Rokery in hotelkamers is ook taboe.

Oor kosbakke praat of leun nie.

Met die hand kos uit bakke “gaps” nie.

Van ’n reisgenoot verwag om vir jou kos van die tafel na die kamer te bring omdat jy laat wil slaap nie.

Tafelgenote op jou laat wag nie.

Drank misbruik nie.

Vuil of suggestiewe grappe vertel nie.

Nalaat om jou hande te was ná elke toiletbesoek nie.

’n Meerderwaardige houding teenoor kelners, skoonmakers en busbestuurders aanneem nie.

Die toerleier en gidse se leiding uitdaag en misken nie.

Afdwaal van die groep nie. Dit plaas onnodige druk op die toerleier (wat jou moet soek) en frustreer die gids en reisgenote.
 
Laat wees nie. Dis onsensitief teenoor medereisigers.

Van medereisigers of jou kamermaat verwag om jou met jou bagasie te help nie. Reis lig en skaf ’n tas met wiele aan.

Die hele kamer (insluitend die badkamer) vir jou toe-eien nie. Respekteer jou kamermaat se ruimte.

Hare, tandepasta of grimering in die wasbak, stort of bad agterlaat nie.

Die toilet (veral die toiletsitplek) onsindelik laat nie.

Doen wel dit:

Leer jou medereisigers ken. Die stilles in ’n groep is dikwels die interessantste.

Ondersteun die toerleier. Dié wat erns met hul werk maak, het ’n uiters verantwoordelike taak om elke reis te laat vlot. Mense het betaal vir ’n reis wat waarde vir hul geld bied. Wanneer reisgenote inval by die reëlings en met ’n positiewe gesindheid saamreis, is dit heerlik heilsaam. Voorts is dit ’n gedugte stresverdrywer.

Ontspan en geniet die reis!

Annelize le Roux is die eienaar van Senior Toere en woon in Franschhoek. Sy is gaande oor Griekeland.


Back Back to top